text
stringlengths 0
41.1k
|
---|
Geskiedenis |
Die Glasgow Sendinggenootskap het 'n sendingstasie in 1824 op die westelike oewer van die Tyhumerivier gestig. Hulle het die dorp eers Lovedale genoem - na John Lovedale van die genootskap. Die dorp is later na prinses Alice, dogter van die Britse koningin Victoria, vernoem. |
Die sendingstasie is na die Sesde Grensoorlog prysgegee en die eerste skool is eers in 1841 ná die heropening gebou. Die geboue is egter tydens die Sewende Grensoorlog opgekommandeer en in 'n fort omskep. Ná die vrede van 1847 is 'n behoorlike fort op die oostelike oewer van die rivier gebou. |
In 1867 het Jane Elizabeth Waterston, Suid-Afrika se eerste vrouedokter, hier begin werk as 'n onderwyseres. |
In 1981 het dit deel van die onafhanklike tuisland Ciskei geword en moes nie-swartes dit verlaat. |
Distrik |
Daar word wol, sybokhaar, beesvleis, melk, sitrusvrugte, tabak en hout gelewer in die distrik. Die Universiteit van Fort Hare is opgerig waar die militêre fort in die 19de eeu op die oewers van die Tyhumerivier gebou is. |
Naburige dorpe |
Sien ook |
NG gemeente Alice |
Lys van dorpe in Suid-Afrika |
Verwysings |
Bronne |
Eksterne skakels |
Die vervalle gebou van die eertydse NG gemeente Alice, soos te sien op Google Maps |
Nedersettings in die Oos-Kaap |
Australasië (Latyn: Australasia, letterlik: "suid van Asië") is die gebied rondom Australië, Nieu-Seeland, Nieu-Guinea, die daaromliggende eilande van Melanesië en ook 'n deel van Indonesië. Die begrip is afkomstig van Charles de Brosses, wat dit in 1756 gebruik het om die gebied af te grens van Polinesië en Magellanica (die suidoostelike deel van die Stille Oseaan). |
Lande in Australasië |
Australië |
Fidji |
Gefedereerde State van Mikronesië |
Kiribati |
Marshalleilande |
Nauru |
Nieu-Seeland |
Oos-Timor |
Palau |
Papoea-Nieu-Guinee |
Samoa |
Salomonseilande |
Tonga |
Tuvalu |
Vanuatu |
Verwysings |
Eksterne skakels |
Gebiede van Asië |
Gebiede van Oseanië |
Stille Oseaan |
Asië |
Asië is die wêreld se grootste kontinent in sowel oppervlakte as bevolking. Saam met die eilande beslaan dit ongeveer 44 579 000 km² wat 33% van die totale landoppervlakte van die aarde is en dit word bewoon deur meer as 4 miljard mense – ongeveer 60% van die wêreldbevolking. |
Geografie |
Asië, wat saam met Europa ’n onderdeel van die groot wêrelddeel genaamd Eurasië vorm, is die grootste van die aarde se vyf vastelande. Dit beslaan 'n oppervlakte van ongeveer 44 miljoen km², oftewel een derde van die wêreld se totale landoppervlakte. Afgesien van ’n aantal eilande in die suidooste, is die hele Asië in die Noordelike Halfrond geleë. Dit strek van die Oeralgebergte, die Swartsee, die Middellandse See en die Rooisee in die weste tot by die Stille Oseaan in die ooste, vanaf die Noordelike Yssee tot by die Indiese Oseaan in die suide. |
Die eilande van Indonesië, Filippyne, Taiwan en Japan maak ook deel uit van Asië, en so ook Siprus, in die oostelike Middellandse See, en Sri Lanka, naby die suidkus van Indië. Die vernaamste berge in Asië is in twee gordels gegroepeer. Die eerste gordel strek vanaf die Chukchi-skiereiland by die Beringstraat, deur Suid-Siberië, tot by die Tiensjan in Noordwes-China. Die tweede gordel begin in Turkye en sluit die hooglande van Iran en Afghanistan sowel as die Himalaja in; oos van Tibet swenk dit suidoos tot by Maleisië. |
Die Asiatiese vasteland bevat die hoogste en laagste plekke in die wêreld – Berg Everest in die Himalaja is 8 848 meter bo seespieël en die Dooie See is 395 meter onder seespieël. Die Baikalmeer in Suidoos-Rusland, naby Mongolië, vorm die wêreld se diepste trog – die meer is 1 620 meter diep en die bodem is 1 295 meter onderkant seespieël. |
Die Kaspiese See en die Aralmeer is oorblyfsels van veel groter see wat vroeër daar bestaan het. Van die grootste riviere in die wêreld kom in Asië voor, onder andere die Mekong, Yangtze en Geelrivier in China en die Indus, Ganges en Chao Phraya in Indië. In Siberië vries die riviere in die winter, soms tot op die bodem. In die verre noorde van die vasteland bly die grond permanent bevrore en slegs 'n dun lagie bogrond ontdooi in die kort somers. Onmiddellik suid van hierdie toendra-gebied is 'n breë gordel onvrugbare sand, waarin uitgestrekte naaldwoude voorkom. |
Verder suid lê die sogenaamde landboudriehoek van Rusland en Oekraïne (tussen Sint Petersburg, Odessa en Irkoetsk). Die grond is humusryk en die verhouding tussen reënval en verdamping is eweredig. Daarop volg die steppe- en woestyngebied, waar die reënval afneem en die temperatuur styg. Die gebied is oor die algemeen vrugbaar, maar besproeiing is noodsaaklik vir landbou. Weens die minerale samestelling van die grond en die feit dat verdamping hoër as die reënval is, ontstaan daar plek-plek soutvlaktes en -mere. Suidwes-Asië maak deel uit van die droëwoestyngordel wat van die Sahara in Afrika tot by die Gobiwoestyn in Mongolië strek. |
Suid van die sentrale gebergtes, in Indië en Suidoos-Asië, word die minerale in die grond deur die swaar moesonreëns weggespoel. Die grond is kleierig, arm aan humus, met harde laterietbodems en wissel in kleur van geel tot rooibruin. Die vrugbaarste grond in die tropiese en subtropiese gebiede is vulkaniese grond, soos die in die hooglande van Dekan. |
Die valleie en deltas van die groot riviere in Indië en China en van die Tigris en Eufraat in Klein-Asië bevat ook baie vrugbare grond. Die reënval in Asië wissel drasties van streek tot streek en word grootliks deur die sentrale bergreekse beïnvloed. Westewinde bring genoeg reën vir die ooskuste van die Middellandse See en die Swartsee, maar ooswaarts word die reën al hoe minder en bereik glad nie die lande oos van die Arabiese Skiereiland nie. |
Die suidwesmoesonwinde bring oorvloedige reën vir Indië en Suidoos-Asië. Die kort winters is die enigste droë tydperke. Die eilande van Indonesië en Maleisië, nader aan en op die ewenaar, het 'n tropiese reënwoudklimaat. Sentraal-Asië, tussen die Kaspiese See en die Gobiwoestyn, word deur die berge van die moesonreëns afgesny. |
Bokant 50 grade noorderbreedte in Rusland is die somers droog en warm en die winters nat en koud. Verder noordwaarts· heers 'n tipiese arktiese klimaat, wat ook in groot mate in die hoogliggende gebergtes voorkom. |
Fauna en Flora |
Naas uitgestrekte grasvlaktes, woestyne en woude, bestaan Asië uit hoë plato's en bergreekse met die hoogste pieke in die wêreld. Daar kom dus 'n groot verskeidenheid plante en diere voor. Die sterk ooreenkoms tussen die fauna en flora van Asië en dié van die Amerikas versterk die vermoede dat daar in die ystertydperk 'n landbrug in die gebied van die Beringstraat moes bestaan het. |
Toendra |
In die verre noorde van Asië tref 'n mens Arktiese plantegroei aan. Daar groei net mos, kort grasse en bossies in die kort somers. Die berghellings langs die noordoostelike kus van Siberië is met welige gras bedek. Talie soorte insekte floreer in die toendra en dien as voedsel vir die groot swerms voëls wat in die somer op land en langs die see broei. Kenmerkend vir die toendra is sneeuhoenders en lemmings, wat as prooi dien vir roofvoëls, poolvosse en ander vleisvreters soos wolwe. Die meeste diere, insluitende die rendiere, migreer suidwaarts in die herfs. Kleiner knaagdiere bly egter ook in die winter daar en lewe van plantegroei wat hul lê onder die sneeu uitgrawe, |
Taiga |
Geen bome groei in die toendra nie, maar uitgestrekte naaldwoude kom suid daarvan in die taiga voor. Hulle bestaan hoofsaaklik uit denne, sparre en lorke. In die koudste dele van die taiga oorheers die lorke. Hulle verloor hul naalde in die winter, voëls en knaagdiere lewe van die bome se sade in die taiga. Soms ontstaan 'n tekort aan sade en dan migreer die voëls op groot skaal na Europa. Die grootste diere wat in die taiga voorkom, is elande, met wolwe, losse (’n soort rooikat) en veelvrate as hul vernaamste vyande. Naaldwoude kom ook teen die berghellings in die hooglande van Tibet voor. Rododendrons van alle kleure en 'n groot verskeidenheid primulas groei daar bokant die boomgrens. |
Steppes en woestyne |
Die plantegroei van Klein-Asië, Iran, Afganistan, Tibet en Mongolië is tipies van woestyn- en steppegebied. Loofbome groei in bosse teen die vogtige berghellings en langs die rivieroewers. Plantegroei in die steppe bestaan hoofsaaklik uit harde grasse, eenjarige plante, bolgewasse en lae struike, soos die Tamarisk. Bokwiet kom oorspronklik uit die steppe van Sentraal-Asië en knoffel uit Wes-Asië. Die plantegroei in Tibet is baie soos dié in China en Japan, waar perskes en appelkose oorspronklik vandaan kom. Kersies, vye, druiwe, hennep, gars, koring en rog, wat oorspronklik uit Klein-Asië kom, het oral op die vasteland belangrike kultuurgewasse geword. Korea, Mantsjoerye en Oos-China het 'n hoë reënval, met subtropiese plantegroei in die suidelike dele. |
Die uitgestrekte steppe was die oorspronklike habitat van die wilde perd, maar vandag kom die egte wilde perd (Equus przewalski) nog net in Mongolië voor. Mongolië is ook die woonplek van die laaste wilde kamele. Hulle is skraler, met korter, harder hare as die mak kameel. |
Baie soorte knaagdiere kom in die steppes voor, onder andere die fluithaas, wat 'n wintervoorraad van afgeknaagde plante opbou. In die warm woestyne van Suidwes-Asië tref 'n mens nog wilde esels aan sowel as 'n soort gasel wat hom by die klimaat aangepas het. Op die hooglande van Tibet kom die wilde jak (knorbuffel) voor. Sy digte pels beskerm hom teen die koue. Die kleiner huisjak is meer as 3000 jaar gelede al deur die Tibettane getem. Hy is 'n nuttige pak- en rydier en word ook aangehou vir melk en vleis. Sy pels het verskeie uiteenlopende gebruike. Hoog in die berge woon wilde skape en bokke, met die sneeuluiperd as hul grootste vyand. Die sneeuluiperd is die enigste lid van die luiperdfamilie wat bokant die boomgrens woon. |
Bere is swerfdiere wat yl bevolkte, bergagtige gebiede as woonplek verkies. Daar is bruinbere in Tibet en knaagbere in die berge van Suidoos-Asië. In die bamboesbosse teen die berghange van Tibet en Wes-China woon die groot pandabeer. Sy kleiner neef kom ook in die aangrensende gebiede voor. Hulle lewe hoofsaaklik van plante. |